Indonesië

Republiek Indonesië
Vlag van Indonesië Embleem van Indonesië
Vlag Embleem
Nasionale leuse: Bhinneka Tunggal Ika
(Oud-Javaans vir: "Eenheid in Diversiteit")
Volkslied: Indonesia Raya
(Indonesies vir: "Groot-Indonesië")
Ligging van Indonesië
Hoofstad Djakarta

6°11′S 106°50′O / 6.183°S 106.833°O / -6.183; 106.833

Grootste stad Djakarta
Amptelike tale Indonesies
Regering Unitêre presidensiële
grondwetlike republiek
Joko Widodo
Ma'ruf Amin
Onafhanklikheid
Vorming
• Hindoe-Boeddhistiese ryke
• Islamitiese sultanate
VOC
Nederlands-Oos-Indië
• Japannese besetting
• Onafhanklikheid verklaar
• Onafhanklikheid erken

van Nederland
2de eeu
13de eeu
20 Maart 1602
1 Januarie 1800
9 Maart 1942
17 Augustus 1945
27 Desember 1949
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
1 904 569 km2  (14de)
735 358 myl2
4,85
Bevolking
 - 2020-sensus
 - Digtheid
 
270 203 917
141 / km2 (88ste)
365,2 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$4 393 biljard (7de)
$15 835 (96ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2023-skatting

$1 420 biljard (16de)
$5 108 (104de)

MOI (2021) 0,705 (114de)  –  hoog
Gini (2016) 38,2 –  medium
Geldeenheid Rupiah (Rp) (IDR)
Tydsone
 - Somertyd
verskeie (UTC+7 tot +9)
nie toegepas nie (UTC+7 tot +9)
Internet-TLD .id
Skakelkode +62

Indonesië (Indonesies: Indonesia, ), amptelik die Republiek Indonesië (Republik Indonesia, ), is 'n eilandnasie in Suidoos-Asië, wat uit 17 508 eilande bestaan. Indonesië is die grootste eilandnasie ter wêreld en met meer as 270 miljoen inwoners die land met die meeste Moslems. Die hoofstad en grootste stad is Djakarta en Indonesië grens aan Maleisië, Oos-Timor en Papoea-Nieu-Guinee.

Nasa-satellietbeeld van Indonesië
Die 34 provinsies van Indonesië

Indonesië het in 1949 ná 350 jaar van Nederlandse besetting sy onafhanklikheid gekry. Die naam van dié land is afgelei van die Griekse woorde Indós vir Indië en nèsos vir eiland, en beteken "Eilandindië".

Geskiedenis

Die eerste nedersettings

Niemand weet presies wie die oorspronklike inwoners was en waarvandaan hulle gekom het nie. Daar was waarskynlik drie hoofsoorte inwoners, naamlik die Negrito's van Wes-Maleisië, die Papoeas van Oos-Maleisië en 'n geel "Mongoolse ras" uit Indo-China.

Die Indiese invloed

Die eerste Indiese handelaars het ongeveer 2 000 jaar gelede op die eilande aangekom en die Boeddhistiese en die Hindoe-godsdiens met hulle saamgebring.

Die eerste koninkryk op Java waaroor inligting in Chinese en Indiese bronne bestaan, was die Salakanagara- of Rajatapura-ryk in Teluk Lada wat in die huidige Pandeglang-regentskap op die suidwespunt van Java geleë was. Die ryk se stigter, Dewawarman, het van Pallava in Indië gekom, maar getrou met 'n plaaslike prinses, Aki Luhur Sang Mulya. Salakanagara het van 150 tot 358 bestaan. Tussen 395 en 434 was daar 'n ander koninkryk, Tarumanegara, wat nogtans deur 'n skoonseun van Dewawarman VIII van Salakanagara gestig is. Sy naam was Jayasinghawarman. Sy kleinseun Purnawarman het oor 48 vasalryke geregeer wat gereik het van Salakanagara in die suidweste tot Purwalingga, wat vandag Probolinggo in Oos-Java is. Hoewel daar verskeie inskripsies oor hierdie vroeë ryke op Java gevind is, het argeoloë geen stedelike oorblyfsels opgespoor nie.

Die Kawi-skrif

Kawi

Die eerste geskrewe tekste verskyn in die vierde eeu in 'n weergawe van die Indiese Brahmi-skrif. Omstreeks die 8ste eeu ontwikkel hieruit die kawi-skrif waarin Oud-Javaans geskryf word.

Die invloed van Indië in hierdie vroeë tyd was baie groot. Die Boeddhisme en Hindoeïsme sou eeue lank in Java oorheers.

Srivijaya

Sumatra en Malakka begrens die Straat van Malakka en dit is 'n belangrike skakel in die oorsese verbindings tussen China en Indië. Die handel deur hierdie streke was reeds vroeg van groot belang. Rondom die huidige stad Palembang ontstaan 'n seeryk wat Srivijaya genoem word. Dit het kontakte met Indië, China, die Khmer-ryk en ook met Java.

Mataram en Śailendra

Die Borobudur

Op Java ontstaan verskeie ryke. Die ryk van Mataram onder die Sanjaya-dinastie is Hindoeïsties en vereer veral die god Shiva. Die Śailendra-dinastie volg die Mahayana-Boeddhisme. Beide is verantwoordelik vir 'n periode waarin op Java talle tempels gebou word. Die Javaanse naam daarvoor is candi. Die bekendste is die Borobudur, gebou deur die laaste Śailendra-koning Samaratungga. Hierdie indrukwekkende gebou weerspieël die groot rykdom van die Śailendra-hof. Hierdie rykdom was gegrond op die groot vrugbaarheid van Java asook op die handelskontakte met ander streke.

In 832 smelt die twee dinastieë saam. Die Sanjaya-koning trou met die dogter van Samaratungga. Haar broer vlug nogtans na Palembang. Op Java versmelt die Hindoeïsme en die Boeddhisme en ontstaan 'n tantriese Hindoeïsme wat Boeddhistiese kenmerke het. Op Bali is hierdie tradisie vandag steeds teenwoordig.

Majapahit

Vanaf 1222 word die konings van Kediri vervang deur die Singhasari-dinastie. In 1293 eis die Chinese Yuan-dinastie (die Mongole) dat die Javaanse koning hom moet onderwerp, maar hy weier dit. Hy word egter vermoor en daar ontstaan verwarring. Die Mongole voer 'n grootskaalse inval uit maar dit misluk. Die koning wat die verset organiseer stig 'n nuwe koninkryk wat Majapahit genoem word en 'n groot deel van die huidige Indonesië sal verenig.

Islam

In Sumatra het die Islamitiese godsdiens vinnig veld gewen. Die beroemde ontdekkingsreisiger Marco Polo, wat in 1292 op die eiland gevange gehou is, het opgemerk dat hele dorpe die Islamitiese geloof aanhang. Van Sumatra af het dié godsdiens langs die handelsroetes na die meeste eilande versprei. In 1475 word in Demak op die noordkus van Java die eerste sultanaat gestig, wat in 1498 Majapahit vernietig. In 1527 is amper die hele eiland onder 'n Islamitiese bewind.

Europese besetting

Die lang tydperk van Europese besetting het in 1511 aangebreek toe die Portugees Alfonso d'Albuquerque 'n han­delspos op Malakka gestig het. Die Spanjaarde het gedurende hierdie tyd ook gepoog om op die eilande handel te dryf, maar die Portugese het daarin geslaag om hulle te verdryf en vir byna 'n eeu was die Portugese die enigste Europeërs wat daar handel gedryf het. Teen die einde van die 16de eeu het ontdekkingsreisigers van ander Europese moondhede ook hul opwagting in die argipel gemaak. Die Engelsman James Lancaster in 1592 en die Nederlander Cornelis de Houtman in 1596.

Daar het nou bittere rusies tussen die Portugese, Engelse en Nederlanders ontstaan, maar uiteindelik het die Nederlanders, en by name die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, wat in 1602 gestig is, hul mededingers uitgeskakel. In die 17de eeu het die Kompanjie onder goewerneurs-generaal soos Jan Pieterzoon Coen en Antonie van Diemen sy handelsmonopolie stewig gevestig. Gedurende hierdie en die 18de eeu is sy gesag geleidelik uitgebrei. In 1747 moes die Islamitiese koninkryk finaal die gesag van die Kompanjie erken en in 1777 was die hele Java beset. Om sy handels­monopolie te handhaaf, het die Kompanjie die gebiede uiters streng beheer. Die Kompanjie was egter nie by magte om die streng handelsbeleid onbeperk toe te pas nie, veral ook omdat baie van sy amptenare korrup was en slegs daarna gestreef het om hulself te verryk. Die gevolg was dat die Kompanjie van die middel van die 18de eeu agteruitgegaan het, en in 1796 is dit as 'n insolvente liggaam ontbind.

Gedurende die eeue van Kompanjie­-beheer was daar natuurlik 'n noue verband tussen Kaapse (S.A.) geskiedenis en dié van die eilande. Nadat die Kompanjie sy gesag daar gevestig het, is die hoofkwartier van sy Oosterse handelsryk in die stad Batavia op die eiland Java gestig.

Die ontevredenheid van die eiland­bewoners het toegeneem. Hul eise om self­bestuur het al hoe dringender geword en die Nederlanders was verplig om in 1918 'n verteenwoordigende liggaam, die Volksraad, in te stel. In 1922 is provinsiale en regentskaprade ingestel.

Die Kaapse regeringsliggame, net soos dié van al die ander Nederlandse kolonies in die Ooste, was ondergeskik aan die regering van die Kompanjie in Batavia. Die Kaapse goewerneurs moes instruksies van die regering getrou uitvoer, en persone wat aan die Kaap gevonnis is, kon na die Hof van Justisie in Batavia appelleer.

Die Kompanjiesowerheid het ook heelwat inwoners van die eilande as bannelinge of slawe na die Kaap gestuur waar hulle as Kaapse Maleiers bekendgestaan het.

Die stryd om onafhanklikheid

Ná die ondergang van die Kompanjie het die Nederlandse regering beheer oor die eilande uitgeoefen. Van 1811 tot 1816 is Nederlands Oos-Indië, as deel van Napoleon Bonaparte se ryk, deur Brittanje beset, maar met die beëindiging van die Napoleontiese Oorloë is dit aan Nederland teruggegee. Die Nederlanders het hierna ook hul gesag oor die hele argipel, met die uitsondering van Timor (Portugees) en Borneo (Brits) uitgebrei. Die Nederlandse regering se bestuur van die kolonies, was gedurende die 19de eeu net so streng soos dié van die Kompanjie. Die roman Max Havelaar, in 1859 onder die skuilnaam Multatuli geskryf deur 'n Nederlander wat self 'n regerings-amptenaar in Indonesië was, bevat 'n felle aanklag teen die wanpraktyke van daardie tyd.

In 1926 is die Indonesiese Kommunistiese Party gestig. Hy het deur gewelddadige metodes begin agiteer om groter onafhanklikheid. Enkele Indonesiese leiers was bereid om met die Nederlanders saam te werk, maar ander, soos Soekarno, Hatta en Sjahrir, het geweier.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Japannese die eilande beset. Na die beëindiging van die oorlog het Soekarno en Hatta op 17 Augustus 1945 die Republiek Indonesië uitgeroep. Nederland se pogings om sy bestuur ná die oorlog te hervestig, het misluk. Soekarno is in hegtenis geneem, maar die Indonesiërs het in opstand gekom en Nederland was verplig om aan hul eise toe te gee. Op 27 Desember 1949 het al die eilande, behalwe Nieu-Guinee, onafhanklik geword. Tussen Indonesië en Nederland het 'n unie tot stand gekom, en hoewel Soekarno president van die republiek was, was die Nederlandse koningin Juliana aan die hoof van die unie. Die betrekkinge tussen die twee lande het egter sodanig verswak dat die unie in 1956 ontbind is en die Neder­landse invloed afgeneem het.

President Soekarno se regering het egter ook al hoe meer ongewild by die inwoners geraak en dit is in 1968 omvergewerp. Hy is deur generaal Soeharto opgevolg.

Die President van Indonesië Joko Widodo en Premier van Maleisië Mahathir Mohamad (9 Augustus 2019)

Demografie

Verspreiding van etniese groepe in Indonesië
Verspreiding van godsdienste in Indonesië

Volgens die 2020-sensus is daar 270 203 917 mense in Indonesië. 147 795 000 van die bevolking woon op Java, die wêreld se mees bevolkte eiland.

Etniese verdeling

42% van die mense is Javane. Daar is ook Maleiers, Soendanese en ander etniese groepe, insluitende 'n Han-Chinese groep wat 2% van die bevolking beslaan.

Religie

Indonesië het die meeste Islam-aanhangers in die wêreld: 80% van die bevolking is Moslems. Van die orige 12% is 10% Christene en 2% Hindoe of Boeddhisties.

Taal

Die amptelike taal is Indonesies (Bahasa Indonesia), maar die meeste van die mense praat Javaans, gevolg deur Soendanees, Maleis, Madoerees, Minangkabau en daar is talle ander tale. Nederlands word nog baie min gepraat.

Eilande

Verwysings

  1. "UN Statistics" (PDF) (in Engels). United Nations. 2005. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 19 Februarie 2020. Besoek op 12 Mei 2018.
  2. "Hasil Sensus Penduduk 2020" (PDF) (in Indonesies). Statistics Indonesia. 21 Januarie 2021. p. 9. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2021. Besoek op 21 Januarie 2021.
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 https://www.imf.org/en/Publications/WEO/weo-database/2023/October/weo-report?c=536,&s=NGDPD,PPPGDP,NGDPDPC,PPPPC,&sy=2020&ey=2028&ssm=0&scsm=1&scc=0&ssd=1&ssc=0&sic=0&sort=country&ds=.&br=1%20%7Ctitle=World%20Economic%20Outlook%20Database,%20October%202023%20Edition.%20(Indonesia)%20%7Cpublisher=%5B%5BInternational%20Monetary%20Fund%5D%5D%20%7Cwebsite=IMF.org%20. Besoek op 10 Oktober 2023. {{cite web}}: Ontbrekende of leë |title= (hulp)
  4. "Human Development Report 2021/2022" (PDF) (in Engels). United Nations Development Programme. 8 September 2022. Besoek op 8 September 2022.
  5. "GINI Ratio Indonesia Declines: Economic Inequality Narrows" (in Engels). Indonesia Investments. 20 Augustus 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 12 Mei 2018.
  6. "Country Profile: Indonesia" (PDF) (in Engels). U.S Library of Congress. Desember 2004. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2020. Besoek op 12 Mei 2018.
  7. (en) Tomascik, T; Mah, J.A.; Nontji, A.; Moosa, M.K. (1996). The Ecology of the Indonesian Seas – Part One. Hongkong: Periplus Editions. ISBN 962-593-078-7.
  8. Java Essay: The History and Culture of a Southern Country Masatoshi Iguchi Troubador Publishing Ltd, 2017, ISBN 1784628859, ISBN 9781784628857
  9. Early Indonesian scripts
  10. Scriptsource

Bronnelys

Eksterne skakels