Die Kode van Hammurabi is ’n goedbewaarde Babiloniese regskode van Antieke Mesopotamië wat van omstreeks 1754 v.C. dateer. Dit is een van die oudste redelik lang ontsyferde geskrifte in die wêreld. Die sesde Babiloniese koning, Hammurabi, het die kode opgestel en gedeeltelike afskrifte het behoue gebly op ’n mensgroot klipstele en verskeie kleitablette.
Die kode bestaan uit 282 wette met strawwe. Dié het afgehang van sosiale status en slaaf versus vry man.
Amper ’n helfte van die wette handel oor kontrakte soos die loon vir ’n osdrywer of dokter. ’n Derde handel oor sake in verband met die huishouding en familiesake soos erflatings, egskeidings, vaderskap en seksuele gedrag. Ander het te doen met transaksies soos die verantwoordelikheid van ’n bouer as ’n huis ineenstort, of eiendom wat beskadig word terwyl iemand dit oppas. Net een wet gaan oor die pligte van ’n amptenaar; dit bepaal dat ’n regter wat ’n verkeerde oordeel vel, beboet en permanent van die rol geskrap moet word. Daar is ook ’n aantal bepalings in verband met militêre diens.
Moderne argeoloë het die kode in 1901 ontdek en die vertaling daarvan is in 1902 gepubliseer. Hierdie feitlik volledige weergawe is uitgekap op ’n stele in die vorm van ’n groot wysvinger van 2,25 m hoog. Die kode is in Akkadiese wigskrif geskryf. Dit word tans in die Louvre uitgestal.